top of page

Johannes 11:17-32

Jesus is die Here, glo en leef jy dit?

Inleiding

Die dood bly vir ons 'n verskrikking en ons het geen antwoord op die dood nie, ons het geen verweer teen die dood nie. Die dood het dit reggekry om in 2020 die hele wêreld te grendel, en op sy kop te draai. Op hierdie stadium met die Covid 19 is die dood in beheer van die wêreld. Dit is omdat regerings oral oor die wêreld angsbevange is oor die dood dat die hele wêreld in 'n staat van stilstaan is. Ons word elkeen spesifiek geraak deur die dood. Ons verloor ons werk ons inkomste en ons vryheid as gevolg van die vrees vir die dood.

As ons miskien soveel tyd aan lewe of aan Die Lewe spandeer het, het ons dalk nie nodig gehad om die dood oor ons te laat regeer nie.



Vasgevang in die knyptang van die dood.

Lazarus is dood. Almal huil en rou en hulle doen dit vir sewe dae. Sommige mense het dit as 'n werk gedoen. Hulle was professionele huilers. Hulle kon vir dae aaneen kerm en ween en op die manier 'n inkomste verdien. Daarna kon hulle nog vir 30 dae 'n manier van rou betoon. Die dood is 'n belangrike saak in die tyd van die Here Jesus.

Martha en Maria kry baie besoekers want hulle broer se dood is 'n verskriklike verlies. Hulle is vasgevang in 'n baie slegte situasie van pyn en hartseer. Die dood is nie 'n lekker gebeurtenis nie en Johannes gebruik hierdie verhaal om die naakte werklikheid van die dood van 'n geliefde aan ons te toon. Dit is nie 'n mooi prentjie nie.

Dink bietjie mooi vriende ons is eintlik op die oomblik ook vasgevang in 'n doodsbestaan.

Alles gaan dood, die koraal riwwe in die see, die woude, die diere die voëls, alles gaan dood en nou gaan mense ook dood. Ons lewe word beheer deur alles wat doodgaan.

In die gedeelte wat ons gelees het is Jesus ook in die knyptang van die dood. Hierdie opwekking van Lasarus uit die dood is die laaste spyker in die doodskis vir Jesus. Die wonderwerk is die finale spyker in Jesus se doodskis, die Jode het besluit dat Jesus inhegtenis geneem moet word want sy invloed raak net te groot. Hy gaan ook sterf dit het sy dissipel Thomas ook duidelik voorspel.

Wanneer Jesus in Bethanie aankom beleef Hy weer hierdie doodsbestaan en dit tref hom baie diep. Jesus ween hieroor. Hy het immers simpatie en empatie met ons doodsbestaan, ons pyn en ons afgryse elke dag.

Hy sien die swaar en pyn van die mensdom met simpatieke oë maar hy sien ook die tol wat die dood eis in mense se lewens en die swaarkry wat dit bring. Die dood is geen vriend nie maar 'n instrument wat die bose gebruik om die lewe vir mense soms ondraaglik te maak. Dit laat Jesus huil.


Jesus kom verlos ons van die dood.

Jesus het egter gekom om ons van hierdie doodsbestaan te verlos.

Ek, ellendige mens! Wie sal my van hierdie doodsbestaan verlos? Aan God die dank! Hy doen dit deur Jesus Christus ons Here. (Romans 7:24–25, AFR1983)

Hierdie genade is nou aan ons geopenbaar deur die koms van ons Verlosser, Christus Jesus: Hy het die mag van die dood gebreek en deur die evangelie die onverganklike lewe aan die lig gebring.” (2 Timothy 1:10, AFR1983)

In Jesus het ons die lewe maar dit is baie moeilik om dit raak te sien. Martha en Maria vestaan baie dinge van Jesus maar dat Hy die lewe is, dit is 'n moeilike punt om te verstaan. Hulle het geweet dat Jesus die Here is dat hy van God is dat hy mense op die laaste dag uit die dood sal laat opstaan.

Maar daardie begrip dat lewe nou reeds vir ons beskikbaar is, dat hy alles nou reeds vir ons skenk, dit was 'n moeilike een. Hulle is nog vasgevang in die pyn en lyding van die nou, die afgryse van die dood. Die finaliteit en die pyn van die dood. Hulle was vasgevang in die uitsiglossheid van die huidige die donker van die wereld.

Hulle sien nie dat die lewe in hulle midde is nie nie!

Ons sien dit ook nie altyd raak nie. Ons bestaan is 'n malle gespook met die dood. Die meeste van dit wat ons doen is om die dood van die deur af te hou. Ons dra maskers ons isoleer, ons soek 'n inentingstof of medisyne of 'n kudde immuniteit.

Maar Jesus staan tussen ons, Hy is die lewe maar ons sien dit nie en ons noem dit nie eers nie en die wêreld wil daar niks van weet nie. Inteendeel hulle sal jou doodmaak as jy Jesus naby hierdie probleem wil bring. Hierdie is nie 'n probleem wat Jesus kan hanteer nie, so meen die wêreld ons moet die dood op ons eie uitsorteer.

Johannes het sy hele evangelie geskryf sodat ons dit sal glo. Jesus genees vir Lazarrus en wek hom uit die dood op. Nadat hy vier dae dood was en sy liggaam begin sleg ruik het plaas Jesus nuwe lewe in 'n ontbinde karkas.

Hy doen dit sodat ons sal glo dat Hy die lewe is.


Laat ons ons geloof wys

As ons glo, laat ons lewe dit bewys.

Kom ons spandeer ons tyd aan die dinge van die lewe. Kom ons soek die lewe

Om jou liggaam te oefen, het wel ’n bietjie waarde, maar om in toewyding aan God te lewe, het in alle opsigte groot waarde, want dit bevat ’n belofte van lewe, vir nou en die toekoms.” (1 Timothy 4:8, AFR1983)

As jy glo dat Jesus die lewe is, is dit belangrik om dit te wyys deur jou getuienis, uitgesprokenheid en jou optrede.

Ons mag en kan nie stilbly nie veral in hierdie tyd. Kom ons wys vir die wereld dat Jesus leef en dat Hy binne in ons leef!



Slot

Jesus is die lewe en as ons in Hom glo en in 'n verhouding met hom leef dan het ons deur die werk van die Heilige Gees die lewe, die ware lewe alreeds nou. Hy het gekom sodat ons die lewe kan hê en dit in oorvloed. Al sien ons die dood daagliks om ons weet ons dat ons in Jesus die lewe het. Deur ons vaste geloof in Jesus het ons nou al reeds deel aan die ewige lewe!

Moenie te veel tyd aan die dood spandeer nie, spandeer julle tyd aan die lewe, vertrou op Jesus en bewys dit deur geloof, toewyding en gebed.

3 views0 comments

Recent Posts

See All

Comments

Rated 0 out of 5 stars.
No ratings yet

Add a rating
bottom of page